WAARIN GLO ONS BY HARMONIE GEMEENTE:

By Harmonie Gemeente kan jy behoort nog voor jy optree soos ander wil hê jy moet optree.  Dis soos Jesus was, Hy het gereeld met die ergstes van ergstes ontmoet, wat besig was met die vreeslikste goed – dan het Hy Sy liefde aan hulle getoon – maar Hy het hulle nie daar gelaat nie.
Dit was JESUS wat hulle verander het – NIE MENSE NIE!  Hier is die sleutel: ons is nie geroep om mense BUITE die familie van God te verander nie; ons is geroep om hulle lief te hê en hulle aan God voor te stel  – DIS GOD WAT HULLE SAL VERANDER.  DIESELFDE GOD WAT MY EN JOU VERANDER HET! 
Al is jy dalk besig met een of ander ding;  jy’s afhanklik van iets, jy het een of ander iets wat in die donker afspeel; dalk doen jy vreemde dinge; of jy verloor jou humeur daagliks;  jy is nie eers heeltemal meer seker WAT jy glo nie…. LUISTER: As jy by ons besoek, en jy is OPREG in jou soeke na Jesus, en dis jou eerlike dryfkrag, jou motivering, DAN IS JY HARTLIK WELKOM – ongeag waarmee jy nou besig is.  Jy is welkom – Jy is welkom!
MAAR, indien jy inkom in hierdie geloofsfamilie om een of ander soort ander agenda van buite in te bring  –  sal dit nie so goed gaan met jou nie, en ook nie met ons nie.  As jy saam ons is; sondaars wat die reddende genade van God kom soek en vind en steeds soek, en jy beweeg in die rigting van meer en meer soos JESUS word – DAN is jy absoluut geheel en al 100% welkom.  Ons sal jou liefhê en jou met ope arms omhels en verwelkom.  Laat ons almal saam Jesus aangryp en staan vir alles wat waar, eerbaar & goed is.  

Ons as Harmonie gemeente glo;

Dat die Woord van God in geheel deur God geïnspireer is en ons aanvaar dit as die hoogste en finale gesag in ons geloof en lewe. (2 Tim 3:16-17)
In die Drie-Enigheid van God, waarlik een maar ook waarlik drie, naamlik God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. (Matt 28:19, 2 Kor 1:21-22, 1 Kor 12:4-6)
Dat die Here Jesus Christus deur die Vader gegenereer is, deur die Heilige Gees verwek is, deur die maagd Maria gebore is en dat Hy ten tyde van Sy bediening op aarde waarlik God en waarlik mens was. (Matt 1:18-23)
Dat God die mens na Sy beeld geskape het, dat die sondeval skeiding gebring het tussen God en die mens en dat die mens die straf, naamlik die dood, fisies en geestelik verdien; dat alle mense ‘n sondige natuur het wat tot persoonlike skuld lei maar dat Jesus Christus kragtens die Skrif, omdat Hy die wêreld so liefgehad het, as ‘n plaasvervangende offer vir ons sonde gesterf het, dat Hy op die derde dag weer opgestaan het en dat almal wat in Hom glo en vir Hom aanneem as sy/haar Saligmaker/Verlosser, op grond van Sy gestorte bloed geregverdig word.          (Gen 1:26, Gen 3:1-24; Rom 6:23, 1 Kor 5:21, 1 Petrus 3:18, Matt 28:5-6)
 
In die wederkoms van Jesus en dat Hy soos Hy belowe het weer na die aarde gaan kom om Sy bruid te kom haal. (Joh 14:1-4: Open 3:11)
Dat die Heilige Gees gelowiges bekragtig en toerus vir diens, met die gepaardgaande gawes van die Heilige Gees; en in die gemeenskap met die Heilige Gees. (1 Kor 12:7-11)
In die opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges, die ewige saligheid van die wie vir Jesus aanvaar het as Saligmaker en die ewige verdoemenis van hulle wat die genadegawe van God verwerp het. (1 Joh 2:17, 2 Tess 1:8-9)
Dat die liggaam van Christus op aarde bestaan uit almal wat deur Jesus Christus vrygekoop en deur die Heilige Gees vernuwe is; dat die plaaslike kerk op aarde `n verantwoordelikheid het om die goeie boodskap van Jesus se liefde aan `n soekende wêreld  te verkondig en daardeur dissipels te maak van alle nasies. (Matt 28:19)
Dat die Here Jesus Christus twee ordinansies ingestel het; die doop en die nagmaal – wat as dade van gehoorsaamheid en as voortdurende getuienis van die vernaamste feite van die Christelike geloof nagekom moet word; dat doop die onderdompeling van die gelowige in water behels as ‘n belydenis van identifisering met Christus in Sy dood en opstanding; en dat die Nagmaal deelname is aan die tekens wat simbolies is van die Verlosser se gebroke liggaam en vergote bloed ter herinnering van Sy offerdood totdat Hy weer kom. (1 Kor 11:23-29, Rom 6:3-5)
In die leer van heiligmaking as definitiewe, dog progressiewe werk van genade, wat begin by die tyd van wedergeboorte en voortgaan vir die res ‘n mens se lewe. (1 Pet. 1:15)