
Welkom by
Harmonie Gemeente
'n Leefstyl Keuse!
Ons is 'n kerk wat glo dat alle mense 'n soeke na God het.

WELKOM BY HARMONIE GEMEENTE!
Ons doel is om Jesus aan elkeen bekend te stel.
Ons visie: “Laat U Koninkryk kom”
By Harmonie Gemeente kan jy behoort nog voor jy optree soos ander wil hê jy moet optree. Dis soos Jesus was.
ROMEINE 15:5
‘Mag God, wat die bron is van standvastigheid en bemoediging, julle help om in volkome harmonie met mekaar te lewe – elkeen met die gesindheid van Christus teenoor julle medegelowiges.’

Wat om te verwag?
Leer van ons waardes, ons storie, en ons kerk deur die “meer oor ons”-bladsy te besoek.
Hoe lyk ons byeenkomste?
Ons dienste is Sondag oggende en begin om 09:15. Jy sal ‘n “Countdown” hoor wat harder is as die agtergrondmusiek wat deurentyd speel.
Ons het ‘n volle orkes wat direk na die Countdown groet – en gewoonlik ‘n voor-af liedjie speel, totdat almal ‘n sitplek gevind het.
Die diensleier groet almal – en deel belangrike inligting oor Harmonie Gemeente, oor die saal, geriewe – en die plekke wat voorberei is vir ouers met babas.
Na die opneem van offergawes word daar ge-open met gebed, en dan begin die lofprysing saam met die orkes.
Ons sing meestal moderne Afrikaanse Lofliedere, maar ook die nuutste Engelse Praise & Worship songs.
Die prediker van die dag kom op, gewoonlik so na die 4de liedjie, en bring die boodskap van die dag. Dis meelewend, en skrifte verskyn op die skerm.
Daar is gewoonlik nog ‘n gemeente slotsang – en dan verdaag die diens. Gewoonlik so ongeveer 10:30.
Ons Hartklop kinderkerk vind plaas tydens die diens, vanaf 09:15.
Ons Polsslag Jeug verlaat die saal, sodra die Prediker opkom vir sy boodskap – en dan word hulle apart bedien.
Wat gebeur as ek besoek?
Besoekers is hartlik welkom. Daar is voldoende veilige parkering reg voor die ingang van die saal. Dis maklik om die hoofingang waar te neem.
Besoeker kom in, en daar is normaalweg mense wat jou vriendelik groet nog voor jy behoorlik binne is. Daar is altyd gratis koffie en tee beskikbaar – en dis ons hoop dat alle besoekers dit vinnig sal raaksien. Maar, ons groet spanne nooi jou ook daarheen. Vandaar kan jy staan en kuier – of jou koffie inneem en rustig binne die saal geniet, terwyl jy ‘n gemaklike sitplek kry.
Ons mense is hartlik en vriendelik – maar geen besoeker sal ooit vorentoe geroep word, of gevra word om iets te doen of te sê nie. Geniet net die diens saam met ons.
Indien jy opdaag met kinders, is die kinders dadelik welkom om by Hartklop kinderkerk in te skakel – al is dit net ‘n besoeker. Daar is ‘n toonbank waar die kinders ingeteken word. So ook met ons Jeug.
Wat moet ek saam bring?
Jy hoef niks saam te bring nie. Jy kom nes jy is, en kom geniet die diens saam met ons. As dit jou gewoonte is om jou Bybel saam te bring, doen dit gerus. Die skrifte verskyn wel voor op die skerms. Indien jy graag wou bydrae, of in die gewoonte is – daar word offergawe opgeneem tydens die diens, maar dit bly ‘n vrywillige bydrae.
Wat moet ek aantrek?
Jy kom nes jy is. Ons mense is gemaklik, en niemand by Harmonie is meer in die gewoonte om formele kerkklere aan te trek nie.
Mense trek gewoonlik aan vir die aktiwiteit wat hulle na afloop van die diens gaan doen. Ons drag is informeel. Ons predikers en die orkes is almal informeel aangetrek.
Kan ek iemand saam nooi?
Nooi almal saam! Jou bure, jou familie – almal is hartlik welkom. Indien jy wel nie Afrikaans verstaan nie, gaan jy dit moeilik vind om te verstaan, want ons dienste is in Afrikaans. Almal is welkom, en daar is genoeg plek vir bykans 700 mense!
Wat as ek meer vra het oor Harmonie Gemeente?
Ons sal graag enige vrae beantwoord oor Harmonie. Oor ons Geloofsoortuiging, oor ons mense, en oor ons aktiwiteite. Enige vrae kan of by die inligtingstoonbank ingehandig word, of na diens per epos, of whatsapp gekommunikeer word. Ons kontakbesonderhede is oral beskikbaar.
15 November 2015 het Hugo & Retha Weich hierdie gemeente kom plant in die Noordelike Voorstede van die Kaap. Ons is ‘n Afrikaanse Geloofsgemeenskap wat lief is vir God en lief is vir mense. Ons glo in die waarheid van die Woord – en dat Jesus Christus die Enigste weg tot die Vader is. Dis ons droom om mense te help om beter leefstyl keuses te maak, wat meer in lyn is met Jesus se voorbeeld.
Hugo het as oud-Lugmagkolonel in 2006 ‘n nuwe loopbaan ingeslaan. Die eerste Gemeente waarby hy en Retha 7-jaar lank betrokke was, is kerksondermure in Centurion. Dis in hierdie tyd wat hy teologiese studies gevolg het, en praktiese gemeentelike ondervinding opgedoen het. In 2013 aanvaar hulle ‘n beroep na Lewende Woord Centurion. Dis in ‘n kort periode van 2-jaar wat die voorbereiding begin om die nuwe gemeente in die Kaap te plant. En nou – reeds 10-jaar later, staan ‘n Geloofsfamilie sterk, met mense wat lief is vir God, lief vir Sy Woord – en aangeteken om die oorspronklike opdrag van God uit te leef: Maak dissipels van God, en versprei die Goeie nuus aan almal. Laat God se Koninkryk kom!
Die plek om te wees...!

Kom kuier saam ons Sondag...
Sondae Oggende
09:15 by Hoërskool Bellville
met Hartkop Kids en Jeug gelyklopend